35 Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem en gebid en hy het vir God dankie gesê. Almal het gesien hoe hy dit doen. Toe het hy die brood gebreek en hy het begin om dit te eet.
36 Paulus het hulle almal bemoedig en hulle het ook begin eet.
37 Ons was 276 mense op die skip.
38 Nadat almal genoeg geëet het, het hulle die koring wat op die skip was, in die see gegooi. Hulle het dit gedoen om die skip ligter te maak.
39 Dit het dag geword. Hulle het land gesien, maar hulle het nie geweet watter plek dit is nie. Hulle het ’n strand gesien, daar was nie rotse nie. Toe het hulle gedink hulle sal probeer om die skip op die strand te laat stop.
40 Hulle het die ankers se toue afgesny en hulle het die ankers in die see gelos. Hulle het ook die toue om die roeispane losgemaak. En hulle het die seil wat voor op die skip was, oopgemaak sodat die wind die skip vorentoe kon waai. Hulle het probeer om die skip na die strand te stuur.
41 Maar die skip het teen ’n sandbank vasgeseil en die voorste deel van die skip het vasgesit. Dit kon nie beweeg nie. Toe het die sterk branders die agterste deel van die skip stukkend geslaan.