11 Die man het vasgehou aan Petrus en Johannes. Hulle het gestaan in die Pilaargang van Salomo en al die mense het na hulle toe gehardloop. Die mense was baie verbaas.
12 Toe Petrus die mense sien, het hy met hulle begin praat en gesê:“Israeliete, hoekom is julle so verbaas oor hierdie wonderwerk? En hoekom kyk julle so na ons? Dink julle ons het met ons eie krag hierdie man weer laat loop? Of dink julle ons kon dit doen omdat ons so godsdienstig is?
13 Nee, dit is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob wat dit gedoen het. Ja, die God van ons voorvaders het dit gedoen. God het gesê sy Dienaar Jesus moet die Koning wees. Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, wou Pilatus vir Jesus vry laat weggaan. Maar julle het Hom vir die Romeine gegee sodat hulle Hom kan doodmaak, julle wou Hom nie aanvaar nie.
14 Julle wou nie die Heilige en Regverdige aanvaar nie. Julle het gevra dat Pilatus ’n moordenaar vry moet laat weggaan.
15 Maar julle het die Leier doodgemaak wat vir mense die lewe wil gee. God het Hom weer laat lewe, en ons is die getuies daarvan.
16 Hierdie lam man het in Jesus geglo toe hy sy Naam hoor, daarom het Jesus die man se bene sterk gemaak. Julle sien hierdie man en julle ken hom. Jesus het vir die man die geloof gegee en hierdie geloof het hom heeltemal gesond gemaak, julle almal het dit gesien.
17 Ja, vriende, ek weet julle het nie besef wat julle doen nie, julle leiers het ook nie besef wat hulle doen nie.