13 Nee, dit is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob wat dit gedoen het. Ja, die God van ons voorvaders het dit gedoen. God het gesê sy Dienaar Jesus moet die Koning wees. Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, wou Pilatus vir Jesus vry laat weggaan. Maar julle het Hom vir die Romeine gegee sodat hulle Hom kan doodmaak, julle wou Hom nie aanvaar nie.
14 Julle wou nie die Heilige en Regverdige aanvaar nie. Julle het gevra dat Pilatus ’n moordenaar vry moet laat weggaan.
15 Maar julle het die Leier doodgemaak wat vir mense die lewe wil gee. God het Hom weer laat lewe, en ons is die getuies daarvan.
16 Hierdie lam man het in Jesus geglo toe hy sy Naam hoor, daarom het Jesus die man se bene sterk gemaak. Julle sien hierdie man en julle ken hom. Jesus het vir die man die geloof gegee en hierdie geloof het hom heeltemal gesond gemaak, julle almal het dit gesien.
17 Ja, vriende, ek weet julle het nie besef wat julle doen nie, julle leiers het ook nie besef wat hulle doen nie.
18 Maar God het lank gelede vir al die profete gesê hulle moet die boodskap bring dat die Christus van God sal swaarkry en sal ly. En nou het God dit alles waar laat word.
19 Daarom moet julle nou julle lewe verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle moet na God toe gaan sodat Hy julle sondes heeltemal kan wegneem.