26 Die offisier en die wagte het toe die apostels gaan haal. Hulle was nie kwaai met die apostels nie, want hulle was bang dat die mense hulle met klippe sal gooi.
27 Hulle het die apostels gebring en hulle het die apostels voor die Joodse Raad laat staan. Die hoëpriester het hulle begin uitvra.
28 Hy het gesê: “Ons het ernstig vir julle gesê: Julle mag nie vir die mense leer van Jesus nie. En nou praat almal in Jerusalem oor die dinge wat julle vir die mense leer. Julle sê ook dat dit óns is wat hierdie man doodgemaak het.”
29 Petrus en die apostels het geantwoord en gesê: “Ons moet meer gehoorsaam wees aan God as aan mense.
30 Julle het vir Jesus doodgemaak toe julle Hom aan die kruis opgehang het, maar toe het die God van ons voorvaders vir Jesus weer laat lewe.
31 God het vir hierdie Jesus die Leier en Redder gemaak. God het vir Jesus gesê Hy moet op die belangrikste plek langs God kom sit sodat die mense van Israel kan verander en kan lewe soos God wil hê en sodat Hy hulle sonde kan vergewe.
32 Ons is getuies dat hierdie dinge gebeur het. God het die Heilige Gees gegee aan die mense wat luister na God, en die Heilige Gees getuig ook dat dit alles waar is.”