36 Julle weet dat daar ’n tyd gelede iemand was, sy naam was Teudas. Hy het vir die mense gesê dat hy baie belangrik is. Omtrent 400 manne het hom gevolg. Maar die regering het hom laat doodmaak en hulle het die manne wat hom gevolg het, na al die kante toe gejaag. Ons het nie weer gehoor van Teudas en die manne wat hom gevolg het nie.
37 Ná Teudas het Judas die Galileër opstandig geword teen die regering. Dit was in die tyd toe die regering die mense van die land getel het. Judas het gesê die mense moet saam met hom opstandig word. Maar die regering het ook vir Judas laat doodmaak, en hulle het almal wat vir Judas gevolg het, na al die kante toe gejaag.
38 En nou praat ek oor die dinge wat nóú gebeur. Hierdie manne maak planne en hulle is besig om dinge te doen, maar ek sê vir julle: Julle moet wegbly van hierdie manne, los hulle. Want as hulle planne en die dinge wat hulle doen, net van ménse kom, dan beteken dit niks.
39 Maar as dit Gód is wat dit doen, dan sal julle nie vir hulle kan keer nie. Julle sal miskien later besef dat julle teen God baklei het.”Die Joodse Raad het geluister na Gamaliël.
40 Hulle het gesê dat die apostels weer moet inkom na hulle toe. Hulle het die apostels geslaan en gesê dat hulle nie mag preek oor Jesus nie. Toe het hulle die apostels laat gaan.
41 Die apostels het weggegaan van die Joodse Raad. Hulle was baie bly dat die Here besluit het dat dit húlle is wat moet swaarkry omdat hulle aan Jesus behoort.
42 Hulle het aangehou om elke dag in die tempel en by die huise vir die mense te leer en om die goeie boodskap te bring dat Jesus die Christus is.