33 Toe sê die Here vir hom: ‘Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.
34 Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’
35 “Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos.
36 Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank wonderwerke en tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn.
37 Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘God sal ’n profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal ’n profeet wees, soos ek.’
38 Dit is hý, Móses, wat by ons voorvaders was in die woestyn. Hy het met hulle gepraat wanneer hulle bymekaargekom het. Moses was ook op Sinai-berg by die engel. Daar het die engel met Moses gepraat, en daar het Moses die boodskap gekry wat vir ons die ware lewe gee.
39 Maar ons voorvaders wou nie luister na Moses nie. Hulle wou nie hoor wat hy sê nie, en hulle het verlang na Egipte.