22 Daarom moet ons aanhou om na God toe te gaan, ons moet net vir Hom dien en ons moet baie seker wees dat die dinge wat ons glo, waar is. Ons het voorheen nie geweet wat is reg en wat is verkeerd nie, maar Jesus het ons rein gemaak soos wanneer die priesters die bloed van bokke en bulle gespat het op onrein mense, en daarna was hulle rein. Daarom is ons ook nou soos mense wat ons liggame met skoon water gewas het.
23 Daarom moet ons aanhou om die dinge te glo en te sê wat ons hoop, ons moenie daaroor twyfel nie. Ons kan baie seker wees daarvan omdat God dit belowe het, en Hy sal doen wat Hy belowe het.
24 Ons moet ook so vir mekaar sorg dat dit vir mense sal help om lief te wees vir ander mense en om goeie dinge vir hulle te doen.
25 Ons moet hierdie dinge doen en ons moenie wegbly wanneer die gelowiges bymekaarkom nie, party mense bly baie maal weg. Nee, ons moet praat met mekaar en ons moet mekaar bemoedig. Julle kan sien dat die dag van die Here nader kom, daarom is dit baie belangriker dat ons hierdie dinge moet doen.
26 Want as ons sonde doen en ons weet dat ons sonde doen, maar ons doen dit nadat ons geleer het en weet wat die waarheid is, dan sal ’n sonde-offer nie meer help om ons sondes te vergewe nie.
27 Nee, dan moet ons bang wees omdat ons weet dat God ons sal oordeel, sy straf sal wees soos ’n baie warm vuur wat almal verbrand wat teen God is.
28 Wanneer twee of drie getuies sê dat iemand ongehoorsaam was aan die Wette van Moses, dan moet daardie persoon sterf.