8 Jesus was alleen, want sy dissipels het in die stad gaan kos koop.
9 Die Samaritaanse vrou sê toe vir Jesus: “Jy is ’n Jood! Hoekom vra jy vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”Sy het dit gesê omdat die Jode nie saam met die Samaritane wou wees nie.
10 Jesus het vir die vrou gesê: “Jy weet nie wat God vir die mense wil gee nie. Jy weet ook nie wie dit is wat nou vir jou water vra om te drink nie. Jy weet nie, en daarom vra jy nie vir My nie, en daarom kan Ek nie vir jou water gee nie, water wat ’n mens waarlik laat lewe.”
11 Die vrou sê toe: “Meneer, jy het niks waarmee jy water kan skep nie, en hierdie put is diep. Waar sal jy die water kry wat ’n mens waarlik laat lewe?
12 Jy is nie beter as ons voorvader Jakob nie. Hy en sy seuns en sy diere het almal hier water gedrink en hy het hierdie put vir ons gegee.”
13 Jesus het vir haar gesê: “Elkeen wat van hierdie put se water drink, sal weer dors word.
14 Maar wanneer iemand drink van die water wat Ek vir hom gee, dan sal hy nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom gee, sal binne-in hom word soos ’n fontein wat vir hom die ewige lewe gee.”