30 Ek, die Seun, mag nie self besluit om iets te doen nie. Ek luister eers wat die Vader vir My sê, dan oordeel Ek. Ja, Ek oordeel regverdig, want dit is nie Ék wat besluit wat Ek moet doen nie. Ek doen net wat die Vader wil hê, Hy wat My na die wêreld gestuur het.”
31 Jesus het vir die Jode gesê: “As Ek self sê wie Ek is, dan beteken my woorde niks.
32 Maar daar is Iemand Anders wat sê wie Ek is. Dit is God. Ek weet dat die dinge wat Hy van My sê, waar is.
33 Julle het mense na Johannes die Doper toe gestuur en hy het die waarheid oor My gepraat.
34 Maar dit is nie nodig dat mense moet sê wie Ek is nie. Ek sê dit vir julle sodat julle kan glo en sodat God julle kan red.
35 Johannes was soos ’n lamp wat brand en helder skyn, en julle was ’n kort tydjie bly oor sy lig.
36 “Daar is ander dinge wat sê wie Ek is, daardie dinge sê dit beter as wat Johannes dit gesê het. Dit is alles wat die Vader gesê het Ek moet doen. Die dinge wat Ek doen, wys dat die Vader My na die wêreld gestuur het.