5 Ek is ver van julle, maar dit voel vir my of ek daar by julle is. Ek is bly om te weet dat julle lewe soos God wil hê en dat julle regtig vas glo in Christus.
6 Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is, en julle glo in Hom. Nou moet julle lewe soos mense wat aan Hom behoort.
7 Christus maak julle geloof sterk, soos ’n wortel ’n boom sterk maak en soos ’n fondament ’n huis sterk maak. En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles.
8 Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie. Die dinge wat hulle sê, kom van die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer.
9 Daardie mense praat nie die waarheid nie, want Christus, die Seun wat ’n mens geword het, is ook God en Hy is so sterk soos God.
10 Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer.
11 Julle behoort aan Christus. Soos wanneer mense iemand besny, so het Hy julle lus om sonde te doen, heeltemal weggevat. Dit is wat die besnydenis van Christus is.