30 Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan die tweede maal kraai.”
31 Maar Petrus het aangehou en ernstig gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê ek ken nie vir U nie.”Al die ander dissipels het ook aangehou om dit te sê.
32 Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.”
33 Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword.
34 Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.”
35 Jesus het ’n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit.
36 Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”