20 Die man het toe weggegaan en hy het in Dekapolis gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.
21 Daarna het Jesus weer in die boot na die ander kant van die see gegaan. ’n Klomp mense het daar langs die see by Hom bymekaargekom.
22 Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge, het daar aangekom. Toe hy vir Jesus sien, het hy voor Hom op die grond geval
23 en vir Jesus gesoebat: “My dogtertjie is baie siek en sy gaan sterf. Kom sit asseblief u hande op haar sodat sy gesond kan word en kan lewe.”
24 Jesus het saam met Jaïrus gegaan.’n Klomp mense het ook saamgegaan en hulle was so baie dat hulle teen Jesus gedruk het.
25 Daar was ’n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei.
26 Sy het baie swaar gekry. Sy was by baie dokters en sy het alles wat sy gehad het, gegee om hulle te betaal, maar dit het nie gehelp nie. Sy het nog sieker geword.