17-18 Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang.
19 Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie,
20 want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is ’n goeie en ’n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister.
21 Eendag het Herodias gesien sy kan nou vir Johannes laat doodmaak. Koning Herodes het verjaar en hy het ’n groot fees gehou vir al sy belangrike amptenare en offisiere en die belangrike mense van die provinsie Galilea.
22 Herodias se dogter het ingekom om vir hulle te dans. Koning Herodes en al die mense wat daar was, het baie daarvan gehou. Die koning sê toe vir die meisie: “Jy mag vir my enige iets vra wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”
23 Hy het weer en weer vir haar belowe: “Ek sal vir jou enige iets gee wat jy vir my vra. As jy vir my die helfte van my land vra, dan sal ek dit ook vir jou gee.”
24 Die dogter het na haar ma toe gegaan en vir haar gevra: “Wat moet ek vra?”Herodias het geantwoord: “Jy moet sê jy wil die kop van Johannes die Doper hê.”