31 Mense het aanhoudend na Jesus toe gekom en hulle het nie tyd gehad om te eet nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle moet saam met My na ’n stil plek gaan sodat julle ’n bietjie kan rus.”
32 Hulle het in ’n boot weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees.
33 Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom.
34 Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie ’n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer.
35 Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van ’n stad en dit is al laat.
36 Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.”
37 Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.”Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?”