47 Toe dit aand geword het, was die dissipels en hulle boot amper in die middel van die see, en Jesus was alleen op die land.
48 Hy het gesien sy dissipels kry swaar om te roei, want die wind het sterk van voor gewaai. Vroeg die volgende oggend voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gegaan. Hy het op die water geloop en Hy wou na hulle toe kom.
49 Toe sy dissipels Hom op die water sien loop, het hulle gedink dit is ’n spook en hulle het hard geskree.
50 Al die dissipels het Hom gesien en hulle het baie bang geword. Jesus het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Toemaar, dit is Ek! Moenie bang wees nie.”
51 Jesus het by hulle in die boot geklim, en die wind het opgehou waai. Die dissipels se monde was oop, hulle was baie verbaas.
52 Hulle het ook nie verstaan wat dit beteken het toe Jesus die brood meer gemaak het nie. Maar hulle was hardkoppig, hulle wou nie verstaan nie.
53 Jesus en die dissipels het na die ander kant van die see gegaan, en by die stad Gennesaret gekom. Hulle het die boot daar vasgemaak.