18 Jesus het vir hulle gesê: “Julle is my dissipels, maar ook júlle verstaan dit nie. Die kos wat van buite in ’n mens ingaan, kan hom nie onrein maak nie.
19 Want die kos gaan nie in sy hart in nie, maar in sy maag, en dan gaan dit weer uit sy liggaam uit.”Hierdie woorde van Jesus het beteken al die kos is rein.
20 Jesus het gesê: “Iets wat uit ’n mens uitgaan, die dinge wat hy sê, kan hom onrein maak,
21-22 want die slegte dinge wat ’n mens dink, kom van binne, uit sy hart. Dit is die slegte dinge wat ’n mens dink wat hom laat sonde doen: soos om seks te hê met iemand met wie hy nie mag nie, of te steel, of ’n mens te vermoor, of egbreuk te pleeg, of ander mense se goed te wil hê, of slegte dinge te doen, of skelm te wees, of te doen net wat hy wil, of jaloers te wees, of sleg te praat van ander mense, of hoogmoedig te wees, of nie te dink wat hy doen nie.
23 Al hierdie slegte dinge kom van binne. Dit maak ’n mens onrein.”
24 Jesus het opgestaan en Hy het van daar weggegaan na plekke naby die stad Tirus. Hy het in ’n huis gaan bly, en Hy wou nie hê iemand moes weet Hy is daar nie. Maar die mense het gou uitgevind dat Hy gekom het.
25 ’n Vrou wie se dogtertjie ’n onrein gees in haar gehad het, het dadelik gehoor Jesus is daar. Sy het gekom en sy het voor Jesus gekniel.