19 Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk was agter rond. Langs altwee kante van die sitplek was armleunings waar die koning se arms kon rus, en daar was twee leeus langs die armleunings.
20 Langs altwee kante van die ses trappe het twaalf leeus gestaan. Daar was nêrens in ’n ander land so ’n mooi troon nie.
21 Al die bekers waaruit koning Salomo gedrink het, was van goud, en in die houthuis was al die bekers van fyn goud. In die tyd toe Salomo gelewe het, was silwer nie belangrik nie.
22 Koning Salomo se skepe waarop die handelaars was, was op die see saam met die skepe van koning Hiram. Die skepe het elke drie jaar teruggekom. Die skepe was vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.
23 Koning Salomo het ryker geword as al die konings van die aarde en hy het meer wysheid gehad as hulle.
24 Mense het van oral gekom om vir Salomo te sien en om te luister na sy wysheid, die wysheid wat God vir hom gegee het.
25 Die mense het almal presente saamgebring. Dit was silwergoed of goue goed of klere of wapens of speserye of perde of muile. Dit het elke jaar gebeur.