13 Ek sal die land wegvat van jou seun. Ek sal ook nie die hele land wegvat nie. Ek sal vir jou seun een stam laat oorbly omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid en omdat Ek lief is vir Jerusalem, die stad wat Ek gekies het.”
14 Die Here het iets laat gebeur sodat Hadad ’n vyand van Salomo geword het. Hadad was ’n Edomiet. Hy was van die koningsfamilie van die land Edom.
15 In die tyd toe Dawid gelewe het, het die Israeliete oorlog gemaak teen die Edomiete. Joab, die hoof van die leër, het die manne gaan begrawe wat in die oorlog gesterf het. Joab het al die mans en die seuns in die land Edom doodgemaak.
16 Joab en al die manne van Israel het ses maande lank daar gebly, en hulle het al die mans en die seuns doodgemaak.
17 Maar Hadad en ’n paar manne van Edom het na Egipte gevlug. Die manne was amptenare van Hadad se pa. Hadad was ’n jong seun.
18 Hadad en die manne het uit die land Midian gegaan en hulle het in die land Paran gekom. Hulle het manne van Paran saamgeneem en hulle het in Egipte gekom by die farao, die koning van Egipte. Die koning het vir Hadad ’n huis gegee en hy het gesê hoeveel kos Hadad moet kry. Hy het ook vir Hadad grond gegee.
19 Die farao het baie gehou van Hadad en hy het vir hom ’n vrou gegee. Sy was die suster van koningin Tagpenes, die farao se vrou.