4 Jerobeam se vrou het gedoen wat hy gesê het. Sy het gereedgemaak en na Silo gegaan en by die huis van Agija gekom. Agija was al baie oud, hy kon nie meer sien nie.
5 Die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou het gekom om vir jou te vra wat sal gebeur met haar seun, want hy is siek. Jy moet vir haar sê wat Ek vir jou sê.”Die vrou se gesig was toe,
6 maar toe Agija hoor sy kom by die deur in, sê hy: “Kom in, vrou van Jerobeam. Hoekom is jou gesig toe? Ek het ’n slegte boodskap vir jou.
7 Jy moet vir Jerobeam gaan sê: Die Here, die God van Israel, sê: Ek het vir jóú gekies van al die mense en Ek het jóú laat regeer oor my volk Israel.
8 Ek het die land weggevat van die koningshuis van Dawid en Ek het dit vir jou gegee. Maar jy is nie soos my dienaar Dawid nie. Hy het My gedien met sy hele hart en hy het dinge gedoen waarvan Ek hou.
9 Maar jy het slegter dinge gedoen as almal wat vóór jou koning was. Jy het vir jou ander gode en beelde gemaak. So het jy vir My hartseer gemaak en weggegaan van My.
10 Daarom sal Ek dit nou sleg laat gaan met die koningshuis van Jerobeam. Ek sal al die mans en die seuns in die koningshuis van Jerobeam laat sterf, slawe en ook mense wat vry is in Israel. Soos ’n mens beesmis verbrand totdat dit as is, so sal Ek doen met die koningshuis van Jerobeam.