1 Abia het koning van Juda geword in die agtiende jaar nadat Jerobeam seun van Nebat koning geword het.
2 Abia was drie jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Maäka dogter van Abisalom.
3 Abia het dieselfde sondes gedoen wat sy pa vóór hom gedoen het. Hy het nie die Here met sy hele hart gedien soos sy voorvader Dawid nie.
4 Maar omdat die Here lief was vir Dawid, het die Here iemand uit Dawid se nageslag koning laat word in Jerusalem, sodat die lamp van Dawid se nageslag daar kon aanhou brand. Die mense van Jerusalem was veilig.
5 Die Here het iemand uit Dawid se nageslag gekies omdat Dawid dinge gedoen het waarvan die Here hou en omdat hy sy hele lewe lank gehoorsaam was aan alles wat die Here gesê het. Hy het net een maal verkeerd gedoen toe hy Urija die Hetiet se vrou gevat het en vir Urija laat doodmaak het.
6 Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam terwyl Rehabeam gelewe het.