19 Maar nou, stuur boodskappers en sê al die leiers van Israel moet bymekaarkom op Karmel-berg, en ook die 400 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat kos kry by Isebel.”
20 Agab het boodskappers gestuur na al die Israeliete toe en hy het die profete laat bymekaarkom op Karmel-berg.
21 Elia het naby al die mense van Israel kom staan en gevra: “Hoe lank wil julle wag voordat julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here God is, dan moet julle Hóm dien. Of, as Baäl God is, dan moet julle hóm dien.”Die mense het hom nie geantwoord nie, hulle het stilgebly.
22 Toe sê Elia vir die mense: “Ek het alleen oorgebly van al die profete van die Here, maar daar is 450 profete van Baäl.
23 Gee vir ons twee bulle. Die profete van Baäl moet vir hulle een bul kies. Hulle moet dit in stukke sny en op die hout op die altaar neersit, maar hulle moenie dan vuur op die altaar begin maak nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal dit op die hout sit en ek sal nie vuur op die altaar maak nie.
24 Dan moet die profete van Baäl tot hulle god bid, en ek sal tot die Here bid. Die god wat met vuur antwoord en wat die hout op die altaar laat brand, Hý is God.”Al die mense het geantwoord: “Dit is goed.”
25 Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.”