9 Toe sê die koning vir die boodskappers van Ben-Hadad: “Sê vir meneer die koning: Ek sal alles doen wat jy die eerste maal vir my gevra het, maar wat jy nou vra, kan ek nie doen nie.”Die boodskappers het vir Ben-Hadad gaan sê wat Agab sê.
10 Ben-Hadad stuur toe weer vir Agab ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek bid dat die gode my sal help. Ek sal Samaria so verwoes dat daar net stof sal oorbly, en die stof sal nie genoeg wees vir al die manne saam met my om dit met hulle hande weg te dra nie.”
11 Die koning van Israel het geantwoord: “Iemand wat ’n oorlog wil begin, moenie spog nie, hy moet wag totdat die oorlog verby is.”
12 Ben-Hadad en die ander konings was besig om te drink in die tente. Toe hy die boodskap van Agab kry, het hy vir sy offisiere gesê: “Julle moet gereedmaak.”Hulle het toe gereedgemaak om die stad aan te val.
13 En toe kom daar ’n profeet by Agab, die koning van Israel. Die profeet het gesê: “Die Here sê: Sien jy hierdie groot klomp mense? Ek sal jou vandag laat wen teen hulle, dan sal jy weet dat Ek die Here is.”
14 Toe vra Agab: “Met wie sal die Here dit doen?”En die profeet sê: “Die Here sê: Ek sal dit doen met die jongmanne van die distrikshoofde.”Agab vra toe wie die oorlog moet begin, en die Here antwoord: “Jy.”
15 Agab het die jongmanne van die distrikshoofde laat tel en laat gereedstaan. Hulle was 232 manne. Daarna het hy al die manne van Israel laat tel en laat gereedstaan. Hulle was 7 000 manne.