13 Die boodskapper wat vir Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Al die profete sê dit sal goed gaan met die koning. Jy moet asseblief ook soos hulle sê, jy moet sê dit sal goed gaan.”
14 Miga het gesê: “So seker soos die Here lewe, ek sal sê wat die Here vir my sê.”
15 Toe Miga by die koning kom, vra die koning vir hom: “Miga, moet ons oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead of moet ons dit nie doen nie?”Miga het geantwoord: “Koning, jy moet gaan. Jy sal wen, die Here gee die stad vir jou.”
16 Maar toe sê die koning vir Miga: “Ek het baie maal vir jou gesê jy moet net die waarheid praat wanneer die Here jou stuur. Hoekom doen jy dit nie?”
17 En toe sê Miga: “Ek het gesien die vyande het al die mense van Israel na al die kante toe op die berge gejaag. Hulle is soos skape wat nie ’n skaapwagter het nie. Die Here het gesê: ‘Hierdie mense het nie ’n koning nie. Hulle moet teruggaan, elkeen moet veilig na sy huis gaan.’ ”
18 Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het vir jou gesê dat die profeet Miga altyd sê dit sal sleg gaan met my, nie goed nie.”
19 Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom.