5 En daarom wil ek nou ’n tempel bou vir my God die Here. Ek wil dit doen soos die Here vir my pa Dawid gesê het. Die Here het gesê: ‘Ek sal jou seun koning laat word ná jou, en hý sal die tempel bou vir My.’
6 Nou moet jy vir jou werkers sê hulle moet vir my sederbome afkap op die Libanon-berg. My werkers sal saam met jou werkers werk. Ek sal jou werkers betaal, jy moet sê hoeveel ek vir hulle moet gee. Jy weet self ons het nie mense wat so goed bome kan afkap soos die mense van Sidon nie.”
7 Hiram was baie bly toe hy Salomo se boodskap kry. Hy het gesê: “Ek prys die Here vandag dat Hy vir Dawid so ’n wyse seun gegee het om koning te wees oor hierdie belangrike volk.”
8 Hiram het vir Salomo laat weet: “Ek het jou boodskap gekry. Ek sal vir jou al die sederbome en sipresbome gee wat jy wil hê.
9 My werkers sal dit van die Libanon-berg afbring na die see. Ek sal vlotte maak van die hout en ek sal dit vir jou bring, jy moet sê na watter plek. Ek sal die hout van die vlotte daar losmaak, en jy kan die hout dan verder neem. En jy moet dan vir die mense in my paleis kos gee, soveel kos soos ek wil hê.”
10 Hiram het vir Salomo soveel sederhout en sipreshout gegee soos hy wou hê,
11 en Salomo het elke jaar vir Hiram 20 000 kor koring en 20 kor skoon olyf-olie gegee vir die mense in sy paleis.