22 Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek
23 en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie ’n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê.
24 U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het.
25 En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’
26 En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid.
27 Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek.
28 Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid.