4 Die volgende jaar het die priester Jojada gepraat met die offisiere van die wagte wat die koning moes oppas en met die wagte by die paleis. Hy het gesê hulle moet na die tempel kom. Jojada het ’n ooreenkoms gemaak met hulle. Hy het hulle in die tempel laat belowe dat hulle sal stilbly en toe het hy vir hulle die prins gewys.
5 Daarna het hy vir die wagte gesê: “Luister wat julle moet doen: Een derde van julle moet op die Sabbatdag kom wagstaan by die paleis,
6 een derde moet wagstaan by die Sur-poort en een derde moet wagstaan by die poort agter die wagte. Julle moet nou by die tempel wagstaan, elkeen moet wagstaan wanneer dit sy beurt is.
7 “Die twee groepe wat klaar waggestaan het, moet by die koning wagstaan, by die tempel.
8 Julle moet rondom die koning staan, elkeen met sy wapen in sy hand. As iemand probeer om tussen julle in te kom, dan moet julle hom doodmaak. Julle moet altyd by die koning wees, oral waar hy gaan.”
9 Die offisiere het alles gedoen wat die priester Jojada gesê het. Elke offisier het sy manne geneem, die manne wat op die Sabbatdag moet kom wagstaan en ook die manne wat klaar waggestaan het, en hulle het na die priester Jojada toe gekom.
10 Die priester het spiese en skilde vir die offisiere gegee. Dit het voorheen aan koning Dawid behoort en dit was in die tempel.