10 Jy het die Edomiete oorwin, dit is seker. En nou verbeel jy jou dat jy baie belangrik is. Bly by jou huis. Hoekom wil jy probleme maak vir jouself? Jy sal sterf, en die mense van Juda saam met jou.”
11 Maar Amasia wou nie luister nie. Toe het koning Joas van Israel gekom, en hy en koning Amasia van Juda het teen mekaar oorlog gemaak in die stad Bet-Semes. Bet-Semes het aan Juda behoort.
12 Israel het gewen teen Juda, en die manne van Juda het gevlug, elkeen na sy huis.
13 Koning Joas van Israel het vir koning Amasia seun van Joas seun van Ahasia gevang by Bet-Semes en hy het vir Amasia na Jerusalem gebring. Daar het Joas ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek, die stuk muur was 400 el lank. Dit was tussen die Efraim-poort en die Hoek-poort.
14 Joas het ook al die goud en silwer en die ander goed gevat wat hy in die tempel en in die stoorkamers van die paleis kon kry. Hy het ook gyselaars saam met hom geneem. En toe het hy teruggegaan na die stad Samaria.
15 Al die ander dinge wat Joas gedoen het, ook die dapper dinge wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Amasia van Juda, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
16 Joas het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria by die konings van Israel. Sy seun Jerobeam het koning geword ná hom.