4 Maar hy het nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand.
5 Die Here het die koning melaats laat word. Hy was melaats totdat hy gesterf het. Hy het apart in ’n huis gewoon, en sy seun Jotam het oor die paleis en die mense van die land regeer.
6 Al die ander dinge wat Ussia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.
7 Hy het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Jotam het koning geword ná hom.
8 Sagaria seun van Jerobeam het in Samaria koning geword oor Israel in die ag-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sagaria was ses maande lank koning.
9 Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy voorvaders. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.
10 Sallum seun van Jabes het planne gemaak teen Sagaria en hy het Sagaria aangeval waar al die mense dit kon sien. Sallum het hom doodgemaak en hy het koning geword in Sagaria se plek.