11 “Koning Manasse van Juda het hierdie slegte dinge gedoen. Die Amoriete wat voorheen in die land was, het slegte dinge gedoen, maar Manasse het slegter dinge gedoen as die Amoriete. Hy het die mense van Juda ook sonde laat doen met sy afgode.
12 Daarom, sê die Here die God van Israel, sal Ek dit nou so sleg laat gaan met Jerusalem en Juda dat elkeen wat daarvan hoor, baie geskok sal wees.
13 Ek sal dit met Jerusalem laat gaan soos met Samaria en met die koningshuis van Agab. Ek sal Jerusalem skoonvee soos ’n mens ’n skottel skoonvee en dit omdraai.
14 Ek gooi die mense weg wat nog oorgebly het van my volk. Ek gee hulle vir hulle vyande. Al hulle vyande sal hulle vang en wegvat wanneer hulle wil.
15 Ek doen dit omdat hulle dinge gedoen het waarvan Ek nie hou nie. Hulle het My kwaad gemaak van die dag toe hulle voorvaders uit Egipte gekom het tot vandag toe.”
16 En ook, Manasse het onskuldige mense laat doodmaak, hy het hulle bloed laat vloei totdat Jerusalem vol bloed was van die een kant tot by die ander kant. Hy het ook die mense van Juda sonde laat doen, hulle het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie.
17 Al die ander dinge wat Manasse gedoen het, en die sondes wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.