5 Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en al die sterre in die lug.
6 Hy het sy seun verbrand en hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak.
7 Manasse het ’n beeld van Asjera gemaak en hy het dit in die tempel gesit. Die Here het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor hierdie tempel gesê: “Ek wil altyd woon in hierdie tempel en in Jerusalem. Ek het Jerusalem gekies uit die stede van al die stamme van Israel.
8 Ek sal die Israeliete nie weer laat wegjaag van die grond wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het en wat my dienaar Moses vir hulle gesê het in sy wette.”
9 Maar die mense van Juda het nie geluister nie. Manasse het hulle verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon.
10 Die Here het sy dienaars die profete gestuur en gesê:
11 “Koning Manasse van Juda het hierdie slegte dinge gedoen. Die Amoriete wat voorheen in die land was, het slegte dinge gedoen, maar Manasse het slegter dinge gedoen as die Amoriete. Hy het die mense van Juda ook sonde laat doen met sy afgode.