2 Konings 23:11-17 ABA

11 Hy het ook die beelde van die perde laat wegvat wat die konings van Juda laat maak het. Die mense het die son by die beelde aanbid. Die beelde het gestaan op die oop stuk grond voor die poort van die tempel by die kamer van die paleisbediende Netan-Melek. Die koning het ook die waens laat verbrand wat by die beelde was.

12 Hy het die altare laat afbreek wat die konings van Juda laat bou het op die dak van die bo-kamer van Agas en ook die altare wat Manasse laat bou het op die twee oop stukke grond by die tempel. Hy het die altare stukkend laat stamp en hy het die stof in die Kedron-vallei laat gooi.

13 Hy het die offer-plekke ontwy wat Salomo koning van Israel oos van Jerusalem laat bou het. Die offer-plekke was suid van die Olyf-berg. Salomo het die offer-plekke laat bou vir Astarte, Kemos en Milkom, die afgode van die Sidoniërs, die Moabiete en die Ammoniete.

14 Hy het die klip-pale laat afbreek en hy het die gewyde pale laat afkap. Toe het hy mensbene op hulle plekke gegooi.

15 Josia het ook die altaar wat in Bet-El was, laat afbreek. Dit was die offer-plek wat Jerobeam seun van Nebat gebou het. Jerobeam het die mense van Israel daar sonde laat doen. Josia het ook daardie altaar, daardie offer-plek, laat afbreek. Hy het die offer-plek verbrand en fyngeslaan en hy het die gewyde paal verbrand.

16 En toe Josia omdraai, sien hy grafte daar op die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en hy het dit op die altaar verbrand. So het Josia die altaar ontwy. Dit het gebeur soos die man van God gesê het toe koning Jerobeam by die altaar gestaan het.

17 Josia het ’n grafsteen gesien en hy het gevra wie se graf dit is. Die mense van die stad Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom het. Die man van God het voorheen gesê hierdie dinge wat jy met die altaar van Bet-El gedoen het, sal gebeur.”