16 En toe Josia omdraai, sien hy grafte daar op die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en hy het dit op die altaar verbrand. So het Josia die altaar ontwy. Dit het gebeur soos die man van God gesê het toe koning Jerobeam by die altaar gestaan het.
17 Josia het ’n grafsteen gesien en hy het gevra wie se graf dit is. Die mense van die stad Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom het. Die man van God het voorheen gesê hierdie dinge wat jy met die altaar van Bet-El gedoen het, sal gebeur.”
18 Josia het gesê: “Los hom, niemand moet sy bene wegneem nie.”Hulle het toe die bene van die man van God gelos en ook die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het.
19 Josia het ook die tempels op die offer-plekke laat afbreek. Die konings van Israel het voorheen daardie tempels by die stede van Samaria laat bou om die Here kwaad te maak. Josia het dieselfde met die tempels gedoen soos hy by Bet-El gedoen het.
20 Josia het die priesters wat by die offer-plekke was, laat slag op die altare en hy het mensbene op die altare laat verbrand. Toe het hy teruggegaan na Jerusalem.
21 Die koning het vir al die mense gesê: “Julle moet die Paasfees vier vir julle God die Here. Julle moet dit vier soos dit geskryf is in hierdie verbondsboek.”
22 Daar was nie nog so ’n Paasfees nie, van die tyd van die leiers wat oor die Israeliete regeer het, tot nou toe, ook nie in die tyd van die konings van Israel en Juda nie.