6 Die Galdeërs het koning Sedekia gevang en hulle het hom geneem na die koning van Babel toe in die stad Ribla. Daar het die koning van Babel besluit hoe hy vir Sedekia wil straf.
7 Hulle het die seuns van Sedekia doodgemaak, en Sedekia moes kyk terwyl hulle dit doen. Toe het hulle Sedekia se oë uitgesteek en hulle het hom met kettings vasgebind en na Babel gevat.
8 Nebusaradan, die hoof-offisier en amptenaar van die koning van Babel, het na Jerusalem gekom in die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, in die 19de jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het.
9 Nebusaradan het die tempel afgebrand en ook die paleis en al die huise in Jerusalem, al die groot huise.
10 Die soldate van die Galdeërs wat by die hoof-offisier was, het die mure rondom Jerusalem afgebreek.
11 Die hoof-offisier Nebusaradan het die mense gevang wat nog in die stad was. Hy het ook die mense gevang en weggevat wat self besluit het om na die koning van Babel toe te gaan. Hulle was die mense wat oorgebly het van al die baie mense in die stad.
12 Nebusaradan het net die armste mense van die land daar laat bly om in die wingerde en op die koringlande te werk.