8 Elisa, die man van God, het gehoor dat die koning sy klere geskeur het, en hy het vir die koning ’n boodskap gestuur en vir hom gevra: “Hoekom skeur jy jou klere? Stuur Naäman na my toe, sodat hy kan weet daar is ’n profeet in die land Israel.”
9 Naäman het toe met sy perde en sy oorlogkar gekom en hy het gestop voor die deur van Elisa se huis.
10 Elisa stuur toe vir Naäman ’n boodskap en sê: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan-rivier, dan sal jou vel gesond word en jy sal weer rein wees.”
11 Naäman het kwaad geword en hy het gery. Hy het gesê: “Ek het gedink Elisa sal uitkom en by my kom staan. Ek het gedink hy sal sy hand oor die seerplekke beweeg en my gesond maak.
12 Die Abana-rivier en die Parpar-rivier van Damaskus is beter as al die water van Israel. As ek my in ’n rivier moet was om rein te word, dan kon ek dit daar gedoen het.”Naäman was baie kwaad en hy het weggery.
13 Maar sy bediendes het met hom kom praat en hulle het vir hom gesê: “Meneer, as die profeet vir jou gesê het jy moet iets doen wat moeilik is, dan sou jy dit gedoen het. Maar nou het hy vir jou gesê: ‘Gaan was jou, dan sal jy weer rein wees.’ ”
14 Toe gaan Naäman af na die Jordaan-rivier en hy duik sewe maal in die water soos die man van God gesê het. Daarna was sy vel so gesond soos ’n klein seuntjie se vel, en hy was weer rein.