2 Die offisier wat langs die koning gestaan het, sê toe vir die man van God: “Nee, dit sal nooit gebeur nie, ook nie wanneer die Here vensters in die hemel maak waardeur die reën kan val nie.”Elisa het vir die offisier gesê: “Ek sê vir jou, jy sal sien dat dit gebeur, maar jy sal nie self van daardie meel of gars eet nie.”
3 Daar was vier melaatse mans voor die poort van die stad Samaria. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom moet ons hier sit totdat ons sterf?
4 As ons besluit om in die stad in te gaan, dan sal ons daar sterf, want daar is nie kos nie. En as ons hier bly, dan sal ons hier sterf. Daarom, kom ons loop na die Arameërs toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.”
5 Toe dit begin donker word, staan die vier melaatse mans op om na die Arameërs se kamp te gaan, maar toe hulle by die kamp kom, was hulle baie verbaas, want daar was niemand nie.
6 Die Here het iets laat gebeur. Die Arameërs het gedink hulle hoor dat daar perde en oorlogkarre en baie manne aankom, en toe sê die Arameërs vir mekaar: “Kan julle dit hoor? Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om te kom oorlog maak teen ons.”
7 Dit het begin donker word, en die Arameërs het gevlug. Hulle het hulle tente en hulle perde en donkies alles daar gelos en hulle het gevlug, hulle wou nie sterf nie.
8 Die vier melaatse mans kom toe by die kamp en hulle gaan in ’n tent in en hulle eet en drink. Hulle vat toe ook goud en silwer en klere en hulle gaan begrawe dit. Daarna het hulle teruggekom en in nog ’n tent ingegaan. Hulle het daar ook goed gevat en gaan begrawe.