11 Jehu het uitgegaan na die offisiere van sy koning toe, en een offisier het vir hom gevra: “Is daar ’n probleem? Hoekom het daardie mal man na jou toe gekom?”Jehu het vir hulle gesê: “Julle weet self hoe daardie man praat.”
12 Maar die ander offisiere het gesê: “Nee, jy jok, vertel vir ons wat hy gesê het.”En toe sê Jehu: “Die profeet het vir my gesê die Here sê Hy salf my om koning te wees van Israel.”
13 Toe trek die offisiere dadelik hulle klere uit en hulle gooi dit op die trappe oop voor Jehu en hulle blaas die ramshoring en hulle skree: “Jehu het koning geword!”
14-15 Jehu seun van Nimsi het saam met die offisiere planne gemaak om koning Joram dood te maak. Joram was toe in die stad Jisreël om gesond te word, want die Arameërs het hom raakgeskiet en gewond toe hy die stad Ramot in Gilead wou terugvat. Joram en al die manne van Israel het daar geveg teen koning Gasael van Aram. Jehu het vir die offisiere gesê: “As julle wil hê ek moet koning word, dan moet julle seker maak dat niemand hier uit Ramot wegkom om vir die koning in Jisreël te gaan vertel wat ons wil doen nie.”
16 Jehu het na Jisreël gery, want Joram het daar siek gelê, en koning Ahasia van Juda het vir Joram kom besoek.
17 Die wag op die toring van Jisreël het die klomp mense van Jehu gesien aankom en hy het geskree: “Ek sien ’n klomp mense!”Joram het gesê: “Stuur ’n boodskapper op ’n perd na hulle toe en sê hy moet vra of daar ’n probleem is.”
18 Die boodskapper het na Jehu toe gegaan en gesê: “Die koning vra of daar ’n probleem is.”Jehu het gesê: “Hoekom vra jy of daar ’n probleem is? Dit maak nie saak nie, draai om en kom saam met my.”Die wag het geskree: “Die boodskapper het by die klomp mense gekom, maar hy kom nie terug nie.”