9 Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord? Hulle het vir my gevra dat ek hulle nie so hard moet laat werk soos hulle vir my pa moes werk nie.”
10 Die jongmanne wat saam met Rehabeam grootgeword het, het vir hom gesê: “Hierdie mense het vir jou gesê dat jou pa hulle baie hard laat werk het, en jy moenie vir hulle so hard laat werk nie. Jy moet vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se lyf.
11 Daarom, my pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. My pa het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.’ ”
12 Rehabeam het voorheen vir die mense gesê hulle moet ná drie dae terugkom. Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag teruggekom na Rehabeam toe,
13 en die koning het kwaai met hulle gepraat. Hy het nie geluister en gedoen wat die ouer leiers vir hom gesê het nie.
14 Hy het gedoen wat die jongmanne vir hom gesê het. Rehabeam het gesê: “My pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. Hy het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.”
15 Die koning het nie geluister na die volk nie, want die Here het dit so laat gebeur. Die Here wou doen wat Hy vir Jerobeam seun van Nebat gesê het toe Hy vir Agija van Silo gestuur het.