7 In die land was daar mense wat nie Israeliete was nie, dit was die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete.
8 Hulle was die nageslag van die mense wat oorgebly het in die land, die Israeliete het hulle nie doodgemaak nie. Salomo het hulle almal baie hard laat werk, hulle doen dit nou nog.
9 Maar Salomo het gesê die Israeliete mag nie slawe word nie. Hulle was sy soldate en die offisiere van die soldate op die oorlogkarre en die perde.
10 Salomo het 250 belangrike amptenare gehad wat moes kyk dat die mense hulle werk doen.
11 Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad gebring na die huis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “’n Vrou van my mag nie woon in die paleis van koning Dawid van Israel nie, want die plekke is gewyd waar die kis van die Here gekom het.”
12 Daarna het Salomo brand-offers vir die Here gebring op die altaar van die Here. Salomo het die altaar voor die voorportaal van die tempel laat bou.
13 Hy het ge-offer soos dit elke dag nodig was, en soos Moses gesê het. Hy het ge-offer op die Sabbatdae, op die Nuwemaan-feeste, en op die drie groot feeste wat hulle elke jaar gevier het: die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Hutte-fees.