14 “Wanneer julle by die land kom wat julle God die Here vir julle gee, sal julle die land vir julleself vat en julle sal daar gaan woon. Julle sal dan sê julle wil ’n koning kies en aanstel soos al die ander volke doen wat rondom julle woon.
15 Dan moet julle ’n koning aanstel, maar dit moet die koning wees wat julle God die Here sal kies. Julle moet een van julle eie mense aanstel om koning oor julle te wees, julle mag nie iemand aanstel wat nie ’n Israeliet is nie.
16 “En die koning moenie baie perde wil hê nie, en hy mag nie die volk terugneem na die land Egipte om baie perde vir homself te kry nie. Die Here het gesê julle moenie weer op daardie pad gaan nie.
17 En ook, die koning moenie vir hom baie vroue neem en dan ophou om die Here te dien nie. En hy moenie baie silwer en goud wil hê nie.
18 Wanneer hy koning word, dan moet hy hierdie wette oorskryf vir homself. Die wette is by die priesters van die nageslag van Levi.
19 Die koning moet die wette altyd by hom hê en hy moet dit elke dag lees, sodat hy kan leer om sy God die Here te respekteer en om aan te hou om alles te doen wat die wette sê.
20 Die koning moenie hoogmoedig wees en hom verbeel dat hy beter is as die ander Israeliete nie. Hy moet presies doen wat die wette sê, sodat hy en sy seuns ná hom lank sal regeer oor die Israeliete.”