1 Moses het gesê: “Wanneer ’n bees of ’n skaap van ’n ander Israeliet wegraak, en jy sien die dier, dan mag jy nie stilbly nie. Jy moet die dier terugbring vir sy eienaar, jy móét dit doen.
2 As die ander Israeliet te ver woon of as jy nie weet wie hy is nie, dan moet jy die dier by jou huis hou, en die dier moet by jou bly totdat sy eienaar hom soek. Dan moet jy die dier terugneem na sy eienaar toe.
3 Jy moet dit ook doen wanneer jy ’n donkie of klere of enige iets van ’n ander Israeliet kry wat weggeraak het. Jy mag nie stilbly nie.”
4 “Wanneer jy sien dat ’n ander Israeliet se donkie of sy bees geval het op die pad en daar lê, dan mag jy nie maak of jy niks sien nie. Jy moet die dier help om op te staan, jy móét dit doen.”
5 “Vroue mag nie mansklere dra nie, en mans mag nie vroueklere dra nie. Julle God die Here haat mense wat dit doen.”
6 “Wanneer jy loop, dan sal jy miskien ’n voëlnes in ’n boom of op die grond kry. As daar kleintjies of eiers in die nes is, en die ma sit op die nes, dan mag jy nie die ma saam met die kleintjies of die eiers vir jouself vat nie.