6 Die Egiptenaars het ons laat swaarkry en hulle het slegte dinge aan ons gedoen, hulle het ons soos slawe laat werk.
7 Ons het gebid tot die Here, die God van ons voorvaders, en ons het gevra dat Hy ons moet help. Hy het ons gebed gehoor en Hy het gesien hoe hulle ons verdruk. Hy het gesien hoe sleg dit met ons gaan en hoe swaar ons kry.
8 Die Here het ons toe uit Egipte gebring met sy groot krag. Hy het daardie mense baie bang laat word, Hy het tekens en wonderwerke gedoen,
9 en Hy het ons gebring na hierdie plek. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is.
10 En kyk nou hier, ek het die eerste vrugte gebring van die land wat die Here vir my gegee het.’“Dan moet jy die mandjie voor die Here neersit en jy moet buig voor jou God die Here.
11 Daarna moet jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by julle woon, feesvier en julle moet al die goeie dinge geniet wat die Here vir jou en jou huisgesin gegee het.”
12 “Jy moet elke derde jaar jou tiendes gee. Wanneer jy jou tiendes klaar apart gesit het, die tiendes van jou koring-oes wat jy in daardie jaar gekry het, dan moet jy dit gee vir die Leviete, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Hulle moet dit eet in julle stede en hulle moet genoeg kry.