30 Jy sal verloof raak aan ’n vrou, maar ’n ander man sal seks hê met haar. Jy sal ’n huis bou, maar jy sal nie daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar jy sal nie die druiwe eet nie.
31 Jy sal sien dat iemand jou bees slag en jy sal nie van die vleis eet nie. Jy sal sien dat iemand jou donkie vat en jy sal nie die donkie terugkry nie. Jou vyande sal jou skape en bokke vat, en niemand sal jou help nie.
32 Jy sal sien dat ander mense jou kinders vat, jy sal elke dag na hulle verlang, maar jy sal niks kan doen nie.
33 Mense wat jy nie ken nie, sal alles eet wat jy geplant het en wat jy oes, alles waarvoor jy gewerk het. Hulle sal aanhou om jou te laat swaarkry en om jou te verdruk.
34 Jy sal mal word van alles wat jy sien.
35 Die Here sal jou siek maak, jy sal lelike sere op jou knieë en op jou bene kry. Jy sal nie gesond word nie, van jou voete tot by jou kop.
36 Jy het ’n koning gekies en aangestel. Die Here sal jou en daardie koning stuur na ’n volk toe wat jy nie geken het nie, jy en jou voorvaders het hulle nie geken nie. En daar sal jy ander gode dien, gode van hout en klip.