7 “Ons God die Here is naby ons wanneer ons tot Hom bid. Watter groot volk het gode wat so naby hulle is?
8 En watter groot volk het wette wat so regverdig is soos die wette wat ek vandag vir julle gee? Nie een volk nie.
9 Maar julle moet baie versigtig wees dat julle nie die dinge vergeet wat julle self gesien het nie. Julle moet dit nooit vergeet nie, julle moet vir julle kinders en kleinkinders vertel
10 van die dag toe julle by Horeb-berg voor julle God die Here gestaan het. Dit was die dag toe die Here vir my gesê het: ‘Maak die volk bymekaar. Ek wil vir hulle die dinge sê wat hulle moet leer sodat hulle My kan dien so lank soos hulle lewe op die aarde. En hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’
11 “Julle het nader gekom en by die berg gestaan. Die berg het gebrand tot binne-in die hemel, en daar was ’n dik, donker wolk.
12 Toe het die Here uit die vuur gepraat met julle. Julle het woorde gehoor, maar julle het niemand gesien nie, julle het net ’n stem gehoor.
13 Hy het vir julle gesê wat sy verbond is, Hy het gesê wat Hy wil hê julle moet doen. Dit was die tien gebooie, en Hy het dit geskryf op twee plat klippe.