13 Toe vra Haggai: “Wanneer iemand aan ’n lyk raak en hy word onrein, en hy raak dan aan hierdie kos, sal die kos ook onrein word?”En die priesters het geantwoord: “Ja, die kos sal onrein word.”
14 Toe sê Haggai: “Die Here sê: So is hierdie volk, so is hierdie mense voor My. En so is alles wat julle doen. Alles wat julle na die tempel bring om te offer, is onrein.
15 Julle moet kyk wat nou met julle sal gebeur. Voordat julle begin het om hierdie tempel weer te bou,
16 het julle swaargekry.“Wanneer iemand by ’n hoop koring gekom het en gedink het daar is 20 kruike vol koring, dan was daar net tien. Wanneer hy by ’n parskuip gekom het en gedink het daar is 50 kruike vol wyn, dan was daar net 20.
17 Hoekom? Ek het julle gestraf, Ek het julle koring siek laat word. Ek het hael gestuur om julle koring en alles wat julle geplant het, stukkend te slaan. Maar julle het nie gevra dat Ek julle moet help nie,” sê die Here.
18 “Vandag is die 24ste dag van die negende maand, en julle het nou die fondament van die Here se tempel klaar gebou. Julle moet kyk wat van nou af sal gebeur.
19 Is daar nog saad in julle stoorkamers? Nee. Daar was niks vrugte aan julle wingerdstokke, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie. Maar van vandag af sal Ek julle seën.”