7 “Vandat Ek julle voorvaders uit Egipte gebring het tot vandag toe het Ek aangehou om vir julle te sê: Julle moet gehoorsaam wees aan My.
8 Maar julle was nie gehoorsaam nie, julle het nie geluister nie. Julle was hardkoppig en het aangehou lewe soos julle slegte harte vir julle gesê het. Daarom het Ek met julle laat gebeur wat Ek gesê het toe Ek die verbond gemaak het met julle voorvaders. Julle het nie gedoen wat Ek gesê het julle moet doen nie.”
9 Die Here het ook vir my gesê: “Die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon, het besluit om ander gode te dien.
10 Hulle het dieselfde sondes gedoen wat hulle voorvaders gedoen het. Hulle voorvaders was nie gehoorsaam aan wat Ek gesê het nie en hulle het ander gode gaan dien. Die volk Israel en die volk Juda het die verbond gebreek wat Ek met hulle voorvaders gemaak het.
11 Daarom sal Ek hulle straf. Hulle sal swaarkry en hulle sal My roep en vra Ek moet help, maar Ek sal nie luister nie.
12 Die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon, sal dan na hulle gode roep en hulle sal vra dat die gode hulle moet help. Hulle het wierook-offers vir daardie gode gebring, maar die gode sal hulle glad nie kan red wanneer dit sleg gaan nie.
13 Die mense van Juda het baie gode gehad, so baie soos hulle stede. In Jerusalem was daar baie altare, so baie soos hulle strate. Hulle het wierook-offers op die altare gebring vir die skande-afgod Baäl.