7 Wanneer iemand oor sy pa of oor sy ma rou, dan sal niemand vir hom ’n stukkie brood gee of vir hom iets gee om te drink om hom te troos nie.
8 En jy moenie in ’n eetkamer kom en saam met die mense eet en drink nie.
9 Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Daar sal in hierdie plek nie meer partytjies wees waar mense vrolik en bly is nie, en hulle sal nie meer trou nie. Dit sal in julle tyd gebeur en julle sal dit sien.
10 En wanneer jy dit alles vir hierdie mense gesê het, en hulle vra vir jou: ‘Hoekom het die Here gesê Hy sal dit so sleg laat gaan met ons? Wat het ons verkeerd gedoen? Watter sonde het ons gedoen teen ons God die Here?’
11 dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê: ‘Dit is omdat julle voorvaders ander gode gaan dien het en hulle aanbid het, en weggegaan het van My, en nie gedoen het wat Ek gesê het nie.
12 En júlle, julle het slegter dinge gedoen as julle voorvaders. Julle is hardkoppig, julle lewe soos julle self besluit, julle is nie gehoorsaam aan My nie.
13 Ek sal julle ver weggooi uit hierdie land tot in ’n land wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, en daar sal julle elke dag en elke nag vir ander gode werk, en Ek sal nie jammer wees vir julle nie.’ ”