6 Jy moet gaan en jy moet vir die mense alles gaan lees wat jy op die boekrol geskryf het, alles wat ek vir jou gesê het wat die Here gesê het. Jy moet dit op die vasdag lees in die tempel waar die mense jou kan hoor, ook al die mense wat uit die stede van Juda gekom het.
7 Miskien sal hulle vir die Here soebat dat Hy genadig moet wees en miskien sal hulle ophou om verkeerde dinge te doen, want die Here is baie kwaad vir hierdie mense. Hy het gesê Hy sal hulle straf.”
8 Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat die profeet Jeremia vir hom gesê het. Baruk het in die tempel alles gelees wat hy op die boekrol geskryf het, alles wat die Here gesê het.
9 Dit was die vyfde jaar nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, in die negende maand. Al die mense in Jerusalem en almal wat uit die stede van Juda gekom het, het by die tempel bymekaargekom om ’n vasdag te hou.
10 Baruk het alles gelees wat hy op die boekrol geskryf het, alles wat Jeremia gesê het. Dit was in die kamer van Gemarja seun van Safan, by die boonste oop stuk grond waar die mense deur die nuwe poort na die tempel gaan. Al die mense het dit gehoor.
11 Miga seun van Gemarja seun van Safan het alles gehoor wat Baruk uit die boekrol gelees het, alles wat die Here gesê het.
12 Miga het na die paleis gegaan, na die kamer van die sekretaris van die koning. Al die amptenare het daar gesit. Hulle was die sekretaris Elisama, Delaja seun van Semaja, Elnatan, Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja, en al die ander amptenare.