1 Jeremia het gehoor die Here praat met hom. Dit was nadat Nebusaradan, die hoof-offisier van die koning van Babel, vir Jeremia by Rama vry laat gaan het. Jeremia was met kettings vasgebind tussen die gevangenes van Jerusalem en Juda wat na Babel moes gaan.
2 Die hoof-offisier het vir Jeremia apart geneem en hy het met Jeremia gepraat waar hulle alleen was. Hy het vir Jeremia gesê: “Dit is jou God die Here wat die mense van hierdie plek gestraf het.
3 Jou God het laat gebeur wat Hy gesê het, Hy het dit gedoen omdat julle sonde gedoen het teen Hom en nie gehoorsaam was aan Hom nie. Daarom het hierdie ding met julle gebeur.
4 Maar kyk, ek haal nou die kettings van jou arms af. As jy wil, kom saam na Babel en ek sal vir jou sorg. As jy nie wil saamkom na Babel nie, bly hier. Kyk, die hele land is hier vir jou. Jy mag gaan waarnatoe jy wil.
5 En as daar nie mense is waar jy wil woon nie, dan moet jy terugkom na Gedalja seun van Agikam seun van Safan toe. Die koning van Babel het vir Gedalja gekies en aangestel om te regeer oor die stede van Juda. Jy moet by hom bly saam met die mense, of jy kan gaan na enige plek waar jy wil.”Die hoof-offisier het vir Jeremia padkos en presente gegee en hy het Jeremia laat gaan.
6 Jeremia het na Gedalja toe in Mispa gegaan en hy het daar by hom gaan bly saam met die mense wat nog oorgebly het in die land.
7 Daar was nog offisiere van Juda in die veld. Hulle en hulle manne het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja gekies en aangestel het om oor die land te regeer. Gedalja moes regeer oor die mans, vroue en kinders wat nie na Babel moes gaan nie. Hulle was die arm mense van die land.