10 As julle aanhou woon in hierdie land, dan sal Ek julle bou, Ek sal julle nie afbreek nie. Ek sal julle plant, Ek sal julle nie uitruk nie, want Ek is jammer dat Ek julle laat swaarkry het.
11 Julle moenie bang wees vir die koning van Babel nie, julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle om julle te red en julle vry te maak van hom.
12 Ek sal genadig wees vir julle, en dan dan sal hy vir julle genadig wees en julle terugbring na julle land.
13 “Maar as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, as julle nie wil doen wat julle God die Here vir julle sê nie, dan sal dit sleg gaan met julle.
14 Julle sê: ‘Nee, ons wil na Egipte gaan. Daar sal nie oorlog wees nie, ons sal nie die ramshoring hoor blaas nie. En ons sal genoeg kos hê. Ons wil daar gaan woon.’
15-16 Dit is wat julle sê, maar dan moet julle nou luister na wat die Here vir julle sê wat oorgebly het van die mense van Juda. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle was bang vir oorlog. As julle vas besluit het om na Egipte te gaan en om daar vreemdelinge te wees, dan sal die oorlog daar in die land Egipte na julle toe kom. En julle is bekommerd dat julle honger sal wees, maar die honger sal daar altyd by julle wees.
17 Al die manne wat besluit om na Egipte te gaan en daar vreemdelinge te wees, sal sterf in oorlog of van honger of pes. Nie een sal kan vlug en wegkom van die swaarkry wat Ek oor hulle sal bring nie.