5 Die matrose op die skip het bang geword. Elkeen het tot sy god gebid en gevra sy god moet hom help. Die matrose het die goed wat op die skip was, afgegooi in die see om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip. Hy het daar gaan lê en hy het aan die slaap geraak.
6 Die kaptein van die skip het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Hoekom slaap jy? Staan op, bid tot jou God. Miskien sal Hy aan ons dink, en dan sal ons nie sterf nie.”
7 Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind wie se skuld is dit dat hierdie storm oor ons gekom het.”Hulle trek toe lootjies, en die lootjies wys dit is Jona se skuld.
8 Die matrose het vir Jona gevra: “Is dit jou skuld dat hierdie storm oor ons gekom het? Watter soort werk doen jy? Van waar kom jy? Uit watter land, uit watter volk kom jy?”
9 Jona het vir hulle gesê: “Ek is ’n Hebreër en ek dien die Here, die God van die hemel. Hy het die see en die land gemaak.”
10 Die matrose het baie bang geword en hulle het gebewe. Hulle het vir Jona gesê: “Hoekom het jy dit gedoen?”Hulle het geweet hy vlug weg van die Here, want hy het dit voorheen vir hulle vertel.
11 Die branders in die see het groter geword, en die matrose het vir Jona gevra: “Wat moet ons doen met jou sodat die storm op die see stil kan word?”